Thursday, October 12, 2017

Groeipunte en navorsing


Dr. Willem van Heerden: Oor groeipunte

Omdat mense wat kommentaar lewer soms vra of daar navorsing oor groeipunte gedoen is, verduidelik ek hier wat ek gedoen het. Verder noem ek moontlikhede van Afrikaner-groei in die Nuwe Bedeling.

Daar is wel aanvanklik navorsing oor groeipunte gedoen, net na die vereniging van Oranjewerkers gestig is. In 1971 het ek ’n brief geskryf wat in die “Transvaler” verskyn het, waarin ek gepleit het vir ’n gebied vir die Afrikaner (daardie tyd ‘blankes’) wat klein kan begin en dan uitbrei. Dit sou ’n konsolidasie punt wees. ’n Jaar of wat daarna het ek met ’n groter artikel gevolg, wat ek o.a. ook aan ‘eie’ volksraad lede geskryf het, sonder enige reaksie (Beide hierdie stukke verskyn onder in hierdie blog). ’n Groepie van ons het besluit om self iets prakties aan die gang te kry, maar het besluit om eers met SABRA te skakel of hulle nie wil saamwerk met die groeipunt gedagte nie. Dit het gelei tot die stigting van die Vereniging van Oranjewerkers  in 1980. Die Oranjewerkers het oor sowat 20 jaar geweldig baie werk gedoen, aanvanklik om groeipunte te verkondig en later ’n eie land. ‘’n Blad het ook die lig gesien:  "Oranje" en later "Oranje Perspektief."
 
Verder oor die groeipunte: Na die stigting van die Oranjewerkers het my raadgewende firma, Bruinette, Kruger, Stoffberg,  by wie ek betrokke was, my vergun om 20% van my tyd aan ’n verslag te werk wat kon aandui waar groeipunte gevestig kon word. Die verslag is in Maart 1981 voltooi (later verwerk in boekvorm in 1992, as ‘Hartland van die Afrikaner’). Een van die teiken gebiede is gekies (Hartland Hoëveld) en daarbinne die dorpie Morgenzon, tussen Ermelo en Standerton, as eerste groeipunt. Morgenzon is gekies omdat dit 200 km vanaf die PWV is en dus nie so afhanklik daarvan sou wees dat mens sommer binne ’n dag soontoe heen-en-terug sou wil ry nie en omdat van ons lede eiendom in die omgewing gehad het. My gesin was die eerste wat soontoe gegaan het, in 1984, en het 17 jaar daar gebly. Uiteindelik het Morgenzon nie gewerk nie, want dit was ’n stormram wat die nuutheid van die gedagte moes oopbreek. Dit was ook moeilik omdat dit in ’n gevestigde gemeenskap gebeur het. Tog is daar baie gedoen. Die Oranjewerkers se kantoor was ook daar.

 Verskeie ander aksies het ook vir die Afrikaner begin waarin ons lede baie aktief betrokke was:  BCVO (onderwys);  APK (kerklike gebied),  Volkswag (kulturele gebied) in 1991 is ook twee ander groeipunte begin te wete Kleinfontein (Ooste van Pretoria) en Orania wat albei vandag nog aan die gang is.  In die doodsnikke voor die oorname en later by die Volksstaatraad, was ons lede baie betrokke by koordinasie van groepe persone  (o.a.die Generaals) wat probeer het om op politieke terrein iets vir die Afrikaner te beding.


Huidig: Boere groeipunt, Pretoria, vir eie Afrikanerland

Tans, glo ek, moet ’n belangrike groeipunt steeds in Hartland Hoëveld wees, vanaf Pretoria in ’n suid-oostelike rigting, selfs in ’n deel van Pretoria  en noem dit die "Pretoria Groeipunt, 'n Boere-groeipunt." Dis nog dieselfde teiken gebied waar Morgenzon ook was maar, vir die nuwe bedeling, kleiner vir die begin en saamgetrek tot teenaan- en binne dele van  Pretoria. Daar is op die oomblik mense wat daar aan die gang is, rondom Kleinfontein-Diamantvallei-omgewing, hoewel hul aksies nog nie gedefinieer is as groeipunt-gebied nie. In die Kleinfontein-groeipunt self is daar tans 1500 mense (in 2017). Dis alles nog binne die Pretoria-Centurion gebied en is geskiedkundig goed geanker. Alle faktore wat nodig is om werkgeleenthede te skep is ook hier aanwesig, in- en om Pretoria en teenaan die PWV. Ook, in Pretoria, is die basis van Solidariteit, Akademia en Soltech. Die Afrikaaanse Protestantse Akademie (APA), wat nou momentum kry, is ook daar gevestig.

Mense kan argumenteer dat hierdie gebied te verstrengel is vir eie gebied. Dit is so, maar waar jy ook al eie dinge aan die gang kan kry (wat elders moeiliker kan wees), sal vreemdes soontoe stroom. 'n Mens kan net so wel die probleem van die begin af hanteer. Verder is daar baie Afrikaners in- en rondom Pretoria. As die gedagte van 'n aanvaarbare eie gebied al in gesink het, kan bykomende Afrikaners, wat op die punt is om n nuwe huis te soek,  probeer skuif na die ooste  waar die res is.  Pretoria raak ons hart.

Hoogland gebied
Die Hoogland gebied wat al sedert 1996 aan gewerk is, en wat binne die Volkstaat voorkeur aanbevelings val, het n meerderheid van Afrikaners: sowat een miljoen teenoor 700 000 nie-Afrikaners.  In die langs-liggende pos van hierdie blog word meer inligting oor hierdie gebied gegee, en n skakel om die aanvanklike pamflet te lees.

"Hoogland" sluit die Pretoria groeipunt, hierbo genoem en is deel van Hartland Hoeveld. Binne hierdie basiese gebiede behoort ons Boere-aksie te werk. Daar is genoeg Afrikaners wat kan deelneem, en nuwe intrekkers kan bykom.

Afrikaanse groeipunt, Mosselbaai
Dan Roodt het Mosselbaai-gebied as 'n Afrikaanse groeipunt gekies, want daar is volgens hom 'n sterk moontlikheid van oorsese betrokkenheid. Dit sal seker wel net 'n Afrikaanse een moet wees, want daar is baie kleurlinge. Dus, sonder die groeikrag wat uit volkskrag kom, sal dit moeilik gaan, maar die plasing is aanloklik. Op die stadium wat my verslag geskryf is, het ek egter nie gedink ons sou simpatieke internasionale betrokkenheid kry nie, wat wel dalk nou kan gebeur. Ek het ook 'n "Hartland Mosselbaai" in my boek "Hartland van die Afrikaner" bespreek (Ble. 183 - 186). In die Nuwe Bedeling sou so 'n gebied egter anders lyk, bv. Port Elizabeth sou moontlik uitgesluit word. Water en landbou is egter 'n beperking, waarvoor oplossings tot 'n mate gevind sou kon word.

Ten slotte
Hopelik kan groeipunte later stadstate word en ontwikkel tot 'n eie land. Terwyl ons self moet werk en organiseer om mense te vestig en ander in te sluit in groeipunte, moet alles in werking gestel word om wetlike krag daaraan te verleen, ook d.m.v. oorsese betrokkenheid. Dit lyk of dit wetlik beskryf moet word as 'n groeiproses wat by groeipunte begin uitbrei. Ook moet daar eie voordele vir Afrikaners wees, eie skole, ens.

Dis alles vir die volgende geslagte.  As dit binne God se wil is sal iets van dié aard wel ’n moontlikheid wees, wat natuurlik beteken dat ons ook ons kant moet bring. Wat myself aangaan, is my wind amper uit op 86 (2017). Ek en my vrou, Hettie , het 6 kinders en 24 kleinkinders, 16 seuns en 8 dogters. Net een van ons dogters is met ’n Namibiër getroud en woon daar, met hul drie seuns. Die ander is of in die Moot in Pretoria,  of naby Diamantvallei-Kleinfontein omgewing wat reeds 'n redelik stewige Afrikanergebied vorm.


No comments:

Post a Comment

Sommige mense se houding op Morgenzon

Dit lyk vir my dat liberaliste glad nie ’n begrip het van die denke en houding van ’n groot stroom konserwatiewe Afrikaners nie. Ek sien d...